KOEIGEMAK
Rusareas en
skoon drinkwater
Deel 2 deur Mike Mouton
RUSAREAS
Koeibehuising is ’n belangrike onderwerp wat dikwels oor die hoof gesien word. Die ideaal is om koeie uit die son en uit die modder te kry. Koeie het egter ’n area nodig waar hulle kan rus en lê om te herkou. Die vryloopsisteem (loose house system) raak al meer gewild onder melkprodusente. Die aanvanklike kapitale uitleg van ongeveer R20 000 tot R25 000 rand per koei skrik boere af om die stap te doen. Die verhoging in produksie van tussen 3 en 5 liter per koei per dag, besparing op die vermorsing van voer, en hoër konsepsiesyfer as gevolg van verminderde hittestres, oorskadu egter die aanvanklike kapitale-uitlegkoste.
Vryloop-huisvesting bied ’n omgewing waar koeie vryelik kan beweeg, gemaklik kan lê, en stresfaktore soos oormatige hitte of modder kan vermy.
Voordele van vryloop-behuising
Dit bied skaduwee en beskerm koeie teen die hittestres van direkte sonlig, veral in die vier warmste maande, Desember tot Maart. Die voordeel dat koeie minder aan moddertoestande blootgestel word, verminder die
voorkoms van hoefprobleme en kreupelheid. Soos met enige stelsel is deeglike beplanning noodsaaklik, en daar is nie net een plan vir almal nie. Elke melkplaas moet ondersoek word en in samewerking met die eienaar moet die beste oplossing gesoek word.Faktore wat in ag geneem moet word is:
• beddegoed wat gebruik gaan word
• tipe behuising wat beskikbaar is
Beddegoed
Die algemeenste opsies is sand, herwonne mis en rubbermatrasse.
Sand:
Koeie hou van sand as beddegoed. Dit is egter nie altyd bekombaar nie. Sand in behuising veroorsaak egter ’n groot bestuursuitdaging as gevolg van die korroderende uitwerking van sand op enige mishanteringstoerusting
soos misskrapers, misroerders, mispompe en misskeiers.
Sand moet weekliks aangevul word, of soos nodig mag wees. Die maandelikse aankoop van sand is ’n vaste
koste wat in ag geneem moet word.
Herwonne mis:
’n Volwasse Holsteinkoei van 600 kg produseer ongeveer 60 kg mis per dag. Wanneer koeie in behuising geplaas word, is dit dus duidelik dat die volume mis ’n redelike uitdaging veroorsaak. Die skeiding van die mis deur ’n misskeier wat die vastestowwe in die mis van die vloeistowwe skei, raak ’n al meer ’n gewilde praktyk onder melkprodusente. Die geskeide mis, wat ongeveer 35% droë materiaal bevat, word in die praktyk vir
14 tot 21 dae onderdak gestoor om ’n mate van kompostering te veroorsaak, waarna dit in die behuising teruggeplaas word vir beddegoed. Dit is ’n eenvoudige proses en kan in ’n groot mate gemeganiseer word.
Die beddegoed moet weekliks aangevul word, of soos nodig mag wees. Die voordeel is dat hierdie beddegoed altyd volop beskikbaar sal wees op ’n melkplaas. Daar is ook altyd ’n surplus wat as kompos bemark kan word.
Soos enige stelsel verg hierdie stelsel ook goeie bestuur. Die beddegoed kan ook weekliks chemies behandel word om bakteriegroei te verminder. Deur ’n skoon, droë en ruim vryloophuisvestingsarea te prioritiseer, ondersteun boere koeigemak wat direk melkproduksie en konsepsiesyfer bevorder.
Rubbermatrasse:
Rubber- of sintetiese koeimatrasse is beskikbaar in die mark. Dit verg minder bestuur en is effektief. Daar moet nog steeds ’n dun lagie organiese materiaal soos kompos of herwonne mis op die matras gestrooi word om te voorkom dat koeie skaafwonde opdoen. ’n Matras is egter die duurder opsie van die drie omdat selfs die slaaparea met beton bedek moet wees sodat die matrasse daarop gemonteer kan word.
BELANGRIKHEID VAN SKOON DRINKWATER
Water word dikwels die “vergete voedingstof” genoem, maar dit is noodsaaklik vir elke biologiese funksie in ’n melkkoei. Veral hoog produserende koeie het daagliks skoon water nodig om optimale melkproduksie en algehele gesondheid te handhaaf.



1. Daaglikse Waterbehoeftes
Lakterende koeie het 100–150 liter water per dag nodig, met inname wat toeneem in warm weer of tydens piek-laktasie. Waterinname is direk eweredig aan melkproduksie. Navorsing toon dat vir elke liter melk
wat geproduseer word, ’n koei drie liter water benodig.
2. Voorsiening van genoegsame drinkspasie
Koeie is tropdiere en drink dikwels in groepe. Om te verseker dat alle diere toegang tot water het, moet die volgende in ag geneem word:
• Minstens 100 mm drinkspasie per dier in die groep.
• Plaas waterbakke op maklik toeganklike plekke om kompetisie te verminder en minder dominante koeie die geleentheid te gee om ook te kan drink.
3. Voorsien skoon drinkwater
Skoon drinkwater moedig hoër inname aan, wat beter gesondheid en produktiwiteit bevorder. Maak waterkrippe gereelde skoon om alge, voer en mis te verwyder. Verseker voldoende waterdruk om piekbehoeftes, veral in warm weer, te hanteer.Doen gereelde inspeksie van waterkrippe om voldoende water per groep te verseker. Monitor watertemperatuur. Koeie verkies water teen matige temperature (15–25 °C).
teen matige temperature (15–25 °C).
OPSOMMING VAN SLEUTELFEITE
• Los huisvesting bevorder koeigemak, gesondheid en produktiwiteit.
• Beddegoed-opsies het unieke voor- en nadele. Gebruik kundige advies om te help besluit wat die beste vir jou plaas sal wees.
• Skoon en voldoende drinkwater is noodsaaklik vir hoog produserende koeie.
• Verseker voldoende drinkspasie per koei en voorsien skoon, toeganklike waterbronne.
• Deur op hierdie noodsaaklike aspekte van koeigemak te fokus, kan boere ’n omgewing skep wat die gesondheid van hul kudde ondersteun en produksie maksimeer.